ALS Nuusbrief van Wilhelm

Terugvoer en gebedsversoeke.

Die jaar het met ‘n spoed begin. Die belangrikste ding wat die Here vir my sê is om te midde van wat ookal, naby Hom te bly (Jak 4:8) en om regtig in gebed en lofprysing met Hom tyd te spandeer.(Ps 127:1 en Ps 47)

Die Here seën werklik Farming God’s Way en die werk in Afrika. Ek ontvang so baie getuienisse en terugvoer van mense en wens so ek kon alles met elkeen van jul deel. Met my een vinger-tik sal ek egter baie besig wees en verder sal julle waarskynlik moeg raak om e-posse van my te ontvang. Ek deel nogtans so een of twee getuienisse met julle:-

In Malawi werk een van die sendelinge onder ‘n Moslem stam en hierdie getroue broer het nadat hy self opleiding in Farming God’s Way ontvang het, teruggegaan na sy mense en hulle ook in Farming God’s Way opgelei.

Een van hierdie vrouens plant toe volgens Farming God’s Way se tegniese boerdery metodes en wat belangrik is, is dat sy hou by ons bestuursbeginsels. Twee weke nadat sy die eerste keer geplant het, het GEEN van haar mielies nog ontkiem nie en rondom haar staan almal se mielies al 10-15 cm hoog. Sy besluit toe sy plant weer nuwe saad, net om twee weke later te besef dat daar steeds NIKS van haar mielies ontkiem het nie, en dit terwyl die mense (meestal Moslems) rondom haar land, se mielieplante reeds kniehoogte staan! Sy plant toe ‘n derde keer en laat my vriend kom om te kom kyk wat dan fout is. Terwyl hy oor haar grond loop, besef hy dat hy geen antwoord vir haar het nie want sy het oënskynlik als reg gedoen. Hy praat met die Vader en duidelik hoor hy dat die Here vir hom sê dat hy en die vrou saam moet bid en sy moet dinge in haar lewe bely. Die broer deel met haar biddend bely hierdie suster in Christus haar sonde voor die Here.

Die sendelingbroer gaan toe saam met haar staan op die vier hoeke van haar stuk grond en bid die Here se seën oor die werk van haar hande en vra dat God asb die grond moet herstel en die mielies laat ontkiem. EEN week later bel die suster en vra dat die broer asseblief dringend moet kom want sy het raad nodig – ”my maize field is looking like a rice field”. Die Here het al DRIE die plantings van die saad in haar landery, op een slag laat ontkiem!! Ons GOD is wie Hy sê Hy is! In 2 Kron 7:13 sê die Woord in engels “…if I command the heavens not to give rain, and the locusts to devour the land, and the pestilence to come among the people,(7:14) THEN if MY people who are called by my name will humble themselves and seek my face and pray and turn from their wicked ways, I will hear from heaven and I will heal their LAND”. Die Here praat hier van die fisiese genesing (oftewel herstel) van die grond!

Nog is dit nie die einde van die storie nie; verlede week(einde Jan 2011) kry ek ‘n e-pos van hierdie sendeling af waarin hy my vra of ek vir hom kan sê hoekom hul mielie -oeste in hulle direkte omgewing so besonder goed lyk – hy vertel dat sy mielieplante ten minste twee mieliekoppe elk aan het en baie het selfs meer. Meer nog as dit, selfs die ongelowiges (Moslems) se mielies lyk beter as laasjaar en hy noem dat hulle nie meer reën of beter weerstoestande as die vorige jaar gehad het nie.

Ek glo dat die Here op grond van wie Hy is en Sy Woord in 2 Kron 7:14, werklik hulle grond herstel het. Hy soek SY kinders om na Hom terug te keer met hul harte, dan herstel Hy die grond nog meer; Hy gebied immers Sy reên en Sy sonskyn oor die GELOWIGE en die ONGELOWIGE. Ek is so opgewonde oor wat die Here besig is om in hierdie spesifieke omgewing te doen, hierdie is ‘n kragtige getuienis van die Vader van onse Here Jesus wat lewe gee vanuit dit wat dood was, fisies sowel as geestelik, want hier sien ons hoe die Lewende Here selfs lewe in dooie grond terugbring!

Daar is vele meer getuienisse uit ander lande en areas waar die mense reeds bedien is met Farming God’s Way, ook getuienisse van wedergeboortes tydens opleiding.

Ek beplan om Saterdag die 12de Februarie te vertrek op ‘n opvolgbesoek aan Lesotho
waar ek met die eerste boer gekontrakteer het om vir ons op bestuifde saad te kweek.
Daarna beplan ek om na die Transkei te reis vir ‘n paar besoeke en bietjie beplanning oor hoedat ons daardie deel van ons mooi land en sy mense ook kan impakteer met die nuus van verlossing, hoop op ‘n lewe waardig van, en in, Sy kruis en opstanding en vry van die bande van armoede en gebrek. NIE goedkoop “PROSPERITY” nie maar versorging soos wat God aan ons beloof in Matt 6:33.

Daarna sal ek omtrent ‘n week terug wees in die Kaap voordat ek vir drie dae saam met die ander “stewards” van Farming God’s Way, as gereedskapstuk in die hand van die liggaam, net gaan saam bid en lofprys en ‘n paar logistieke en geestelike punte bespreek.Dit dus die 2de tot die 4de Maart. Daarna terug Kaap toe vir 2 dae en dan op die 7de Maart, beplan ek om DV vroeg die oggend te vertrek na Malawi, die roete lei deur Zimbabwe, Mosambiek en dan weer terug na Zambia. Oral gaan ek opleiding doen en/of net inbou in die manne wat sleutelpersone is in terme van opleiding in verskillende gebiede. Ek beplan om, as die Here wil, weer om en by 7 April terug te wees in die Kaap. Ek sien baie uit na die Malawi deel, waar Anthony Caetano en sy 7jarige seun, Juda by my aansluit.

Vanaf Malawi beplan ek om na Wes-Zambia te gaan vir ‘n opvolgbesoek aan sendelinge daar en om ook daar verdere opleidings te doen in ‘n “village” of twee.

Liewe familie in Christus, party dae voel dit vir my die taak is net te veel en die omvang daarvan net te groot, en so is dit ook vir ‘n mens. Die pad is baiekeer ‘n pad waarop ‘n mens maar eensaam voel, gelukkig weet ons die Here laat mens nooit alleen nie, Hy het egter in Sy groot genade en alwysheid geweet om ons in ‘n liggaam saam te bind met ‘n band van Sy liefde. Prys die Here daarvoor!

Ek wil baie graag vir elkeen van julle wat saam met my en Pauli op watter manier ookal in hierdie stryd saamstry, BAIE DANKIE sê, hetsy dit was/is deur gebed, ‘n woord van bemoediging, ‘n arm om die skouer, ‘n drukkie of finansieel. Ons eer die Here vir elkeen van julle, ons waardeer julle en dit is belangrik dat julle elkeen weet dat, op grond van die Woord, julle net soveel deel het aan die oes as ons. Ek het net die voorreg om te gaan.

Ek wil ook graag enigeen wat gelei word om saam te gaan op ‘n reis in Afrika, om asseblief enige tyd met my of Pauli te skakel.

Ek wil u vra om asseblief saam met ons te bid vir die volgende sake:

  • Vir ons as gesin, ons huwelik, eenheid, beskerming, ook terwyl ek op reis is, spesifiek vir Pauli wie dan alles alleen moet hanteer.
  • Bid ook asb beskerming vir almal wat saam met ons staan, op watter manier ookal, ek beleef baie hoedat mense wat ons ondersteun ook aanslae beleef.
  • Vra ook Sy beskerming op die paaie, ek ry lang ure en baie kilometres. Ook dat Hy die voertuig in stand sal hou.
  • Vir die mense en wie ons gaan bedien en die wie plaaslik op die grond vir ons help en wie die organisasie daar doen, ek kan soveel stories vertel van hoedat hierdie mense teenstand beleef en ten spyte daarvan steeds getrou dien.
  • Dat die Here my genadig sal wees om regtig te dien,in die gemeenskappe waar ek kom. Dat Hy Sy huis sal bou anders is ons werk tevergeefs.
  • Vir manne van vrede op die grond, wat sal inkoop op die visie en wat in hulle eie omgewings en gemeenskappe sal begin dien.
  • Dat die Here vir ons sal voorsien in finansies wat ons nodig het om die werk te kan doen.
  • Die voertuig waarmee ek gewoonlik ry se ratkas en skokbrekers het reperasiewerk nodig, dat die Here ook daarin vir ons sal voorsien.

Dank ook saam met ons die Here vir:

  • Sy getrouheid en vir wie Hy is. Vir hoe Hy vir ons die deure oopmaak.
  • Hoedat Hy mense se harte aanraak en hul lei en bedien, en hoe Hy Sy beloftes gestand doen en herstel bring en mense vrymaak.
  • Sy beskerming in elke opsig.
  • Sy voorsiening. Ons staan totaal van Hom afhanklik, meer as ‘n jaar terug het die Here gesê ek moet ophou met handel dryf en voltyds my toespits op Farming God’s Way. Ons het so baie getuienisse van Sy voorsiening.

Liefdegroete in Christus,

Wilhelm Els

This entry was posted in News and tagged , , , , , , , . Bookmark the permalink.

One Response to ALS Nuusbrief van Wilhelm

  1. Pieter Greyvenstein says:

    Hello Wilhelm, ons wil dringend met jou kontak maak i.v.m. FGW hier in Botswana.
    Jou program lyk besig, maar asb kan jy ons laat weet hoe ons nog hierdie jaar FGW kan inpas? Ons het mense, 3 kerke wat belangstel en ons het grond. Ons glo die Here kan dit gebruik hier en die gemeenskappe het dit so nodig. Ons kan Skype, bel, e-mail, enige ding, maar wil net graag kontak maak. Miskien op pad terug van Zambia af kan jy by Francistown aanry en ons kan kuier en gesels. Hier sal slaap plek wees. Laat weet maar.
    Groete, Pieter en Rykie Greyvenstein

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *